Van ons bure kan jy baie dinge sê – hulle is luidrigtig, onkonsidererend, voor op die wa en onderduims maar vuil is hulle verseker nie. Die feit dat die bad minstens drie keer per dag loop getuig hiervan.
In ‘n buurt waar die studente stadig maar seker besig is om ‘n rustige woonbuurt in ‘n studentebuurt te verander het ons bure dit reggekry om die vrede in ons rustige blok te kom versteur.
Ek ken hulle roetine nou al goed. Die eerste bad loop sesuur in die oggend. Dan word daar heen en weer geskuifel. Hoekom kan Inwoner A nie al sy goed saam badkamer toe neem nie? Mens beplan mos jou badtyd veral as dit jou grootste genot in die lewe is. Die makkers sal dan saam vetrek en Inwoner B kom weer terug huis toe met die motor. Hy knip seker nog ‘n uiltjie want die tweede bad loop eers hier teen elfuur. Afhangend van wie in die omtrek is mag daar dalk nog ‘n bad loop teen die middag indien ‘n lankverlore broer of neef in die omtrek is. Ten spyte van die twee persoon limiet op die woonstel is daar minstens drie jong mans wat bo ons woon. Ek is seker ek sien gereeld een van die bywoners, kom ons noem hom nou maar Inwonder C, vroeg in die oggend by die instaphekkie uitglip.
Dis nou uitsluitend die string besoekers, bywoners en gaste wat kuier en dan maar uitspan vir die nag. Teen vroegaand is dit weer badtyd. As dit ‘n lekker bederfdag is sal die baddens weer ‘n tweede rondte loop. Sover ek kon tel was die rekord hoeveelheid sover ses baddens op een dag. Ek sidder om te wonder hoeveel hulle elektrisiteitsrekening moet wees.
Ons bure geniet ook ‘n sportwedstryd en dan is daar weer ‘n vol huis van pelle wat kom inloer. Mens hoor die stroom van gaste wat verby ons kamervenster, die badkamer, kombuis en voordeur loop. Omtrent elke deel van ons woning grens aan ‘n deurgang. Dan is dit kuiertyd en die gestamp en gedreun van bo op die vloer getuig van ‘n feestelike tyd. Ek is ook seker hulle speel met albasters of golfballe want daar rol snaakse goed op die vloer rond. As die drankies opraak vertrek die hele geselsskap na ‘n ander kuierplek en dan het ons rus en vrede vir ‘n bepaalde tyd tot hulle weer laataand terugkom. Gelukkig is hulle dan vodde en daar is geen baddens wat getap word nie.
Die arme eienaar is seker al oorval met klagtes want die woord in die gange is dat die eenheid nou op die mark is.
Ek het nooit gedink dat ek een van daardie mense sou word wat my bure deur die gordyne afloer nie. Dink dit is seker tyd om meer uit te kom want hierdie “van-die-huis-af” werk storie begin my aftakel. Miskien sal ‘n lekker warm bad help.