jou aandagsoekende
middelkindsindroom
spreek boekdele van die
armoede waarin jou
braakgeploegde siel
ditself bevind
Daar waar jy tekortgeskiet het
het ek myself gevind sonder verwyt
weerloos en arm sonder pretensie
Jy’t jouself losgetorring van my omgee
en gespoeg op die wang van vergifnis
daar waar ons almal staan
en die skarlakenskuld van ons hande afwas
Ek wou vingers wys maar
in ‘n oogwink het jy my gewys:
ons is eintlik almal
wolwe in skaapsklere
wat die valdeur op ‘n skrefie
vir die bose ooplaat
Ek wou jou verlorenheid ontlont
jou kompas herstel
in die proses my trots
in die skarniere van jou verwyte
laat knyp en sodoende
‘n boord van verwyt
tussen ons gesaai
en die vrugte wat ons nou pluk
die verdoemde oes van genetiese
en onoorbrugbare verskille
9 November 2011